• 2016 Vol 55 no 429

  • 2016 Vol 55 no 427

  • 2016 Vol 55 no 426

  • 2017 Vol 56 no 430

  • 2017 Vol 56 no 431

Copyright 2018 - Porter Finance Review Design - Woord en Daad

 

Editor's Note

Woord en Daad Uitgawe 56 Nommer 431

Voorwoord: Is die akademie ʼn sinkende skip?

Eksistensiële dilemma

Die grootste deel van die inhoud van hierdie uitgawe van Woord en Daad handel oor die akademie. Meer spesifiek: Die Institutuut vir Grondslae-onder-soek (IGO) van die Noordwes-Universiteit het verlede jaar ʼn eerste IGO-Forum gehou. Tydens die forum het ʼn aantal organisasies wat vanuit ʼn reformatoriese perspektief in die hoër onderwyssektor funksioneer, bymekaar gekom en hulself aan mekaar voorgestel. In hierdie uitgawe word hierdie bekendstellings met lesers gedeel. Die IGO self plaas ook in hierdie uitgawe haar posisioneringsdokument. Inleidend gaan nie meer gesê word oor die inhoud van die uitgawe nie – die inhoud spreek vanself. Hieronder gaan eerder ge-poog word om huidige denke oor die akademie te verken.

Waarom kom studente universiteit toe? In die ou dae is gesê dat veral meisies kom om BA-Manvang te studeer. Hopelik word dit nie meer gesê nie.

Is studente hier sodat hulle ʼn goeie werk kan kry, en so ekonomiese selfversorging? Dan is dit belangrik dat hulle hul besighou met die soort vakke wat dit vir hulle kan gee. Jy kom nie eintlik universiteit toe om klassieke Musiek te studeer, of Latyn, of Filosofie, of Afrikaanse Literatuur, of Geskiedenis nie – en Teologie begin ook al hoe meer ʼn ekonomies riskante besigheid te word. Probeer eerder om ʼn dokter of ʼn ingenieur of ʼn sakeleier of ʼn staatsamptenaar te word. Vir studente sal gesê word: Die land het hierdie laaste soort mense nodig. Die eintlike bedoeling van almal wat raadgee is eintlik maar: Sorg dat die jong mense effektief kan deelneem aan ʼn ekonomie waarin dit gaan oor materiële oorlewing en wins

Is hierdie materiëel-ekonomiese rede vir deelname aan die akademie nie dalk net so verdag as die BA-Manvang motief nie? Die meeste mense sal waarskynlik hulle koppe instemmend knik, maar diep in hul harte wonder.

Hoe kies ʼn mens in hierdie eksistensiële dilemma, tussen materiële welsyn en lewen-sin? Die manier waarop akademiese mense gewoonlik van so-iets probeer sin maak, is om die hele ding uitmekaar te haal en dan weer inmekaar te sit, te probeer verstaan wat die dele is en dan weer hoe alles sinvol maar ook instrumenteel bymekaar hoort.

Hoe lyk die akademie as ons dit in sy dele uitmekaar haal?

In die verhaal hieronder gaan die akademie vergelyk word met ʼn gebou met meerdere verdiepings wat gebou is binne ʼn skip wat op ʼn vaart is. Aandag gaan veral gegee word aan een van die belangrike dele van die akademie waaraan akademici baie keer nie veel aandag gee nie: Wat is die rigting waarin die akademie beweeg?

Die gebou akademie

Waaruit bestaan die gebou akademie?

Die eerste verdieping is dié van die voorhand-liggende, die feite, die data, of die ervaring van die wêreld om ons, en ook ín ons, waar-mee ons elke dag gekonfronteer word. Dit is die politieke skuiwe van ʼn regering wat dit moeilik vind om die land te regeer – en sommer in die proses ook goed vir hulself te sorg. Dit is die ekonomiese wêreld van ge-wone Suid-Afrikaners wat probeer sorg dat hulle elke dag ʼn bord kos het om te eet. Dit is die angs van mense wat in ʼn woonbuurt of ʼn dorp woon waar oproerige skares hul eiendom en hul lewens bedreig. Dit is die emosies waarmee ons stry as ons swaarmoedig is oor die toekoms. Dit is die morele werklikheid as ons sien dat ons medewerknemers of staats-amptenare of politici oneerlik is, of as ons vriende nie eintlik mense is op wie ons kan staatmaak nie of waarmee dokters en verpleegsters worstel as hulle besluite moet neem wat kan beteken dat mense leef of sterf.

Dit is helaas, die ervaring van studente en dosente wat sê dat hulle besig is met die akademie. Dit alles is die onderste verdieping van die gebou – dit wat voorhande is.

Die tweede verdieping is die teorieë waarmee wetenskaplikes na vore kom om te verduidelik wat en hoekom die voorhande is wat dit is. Teoretisering is natuurlik ʼn tema op sy eie. Dit wat voorhande is, word uitmekaar gehaal, geanaliseer en daar word probeer om ʼn prentjie te gee van hoe die dele in ʼn grotere geheel inpas. Om dit in tegniese taal te stel: Aspekte van ons ervaring word geabstraheer, geanaliseer en ʼn hipotese oor wat dit is, hoe dit is en hoe dit inpas in ons ervaring van die totaliteit, word ontwikkel.

Die saamvoeg in ʼn grotere geheel en die noem van ʼn voor-teoretiese ervaring van alles, gebeur eintlik al op die derde verdieping van die gebou, naamlik die meta-teoretiese dimensie van die akademie. Die term meta probeer ʼn aanduiding gee van iets wat die voorhande fokus en die teorie oor die voorhande soos met ʼn skip se stuur rigting gee. Dit gaan oor die veronderstellings of aannames waarmee ons ons teoretisering aanpak. In Engels word van “beliefs” gepraat en in akademiese taal word deesdae veral na ʼn sisteem van veronderstellings verwys as die paradigmas waarmee ons werk.

Die derde verdieping huisves ook die grotere ideekonteks waarin die akademie self staan. Dit is die vaart van die mensheid iewers heen. Sommige sal beweer dat die mensheid eintlik maar net in sirkels beweeg. Christene het ʼn ander prentjie, een van val en opstaan op pad na ʼn beter bedeling as hierdie een. Volledig gesekulariseerdes kan dalk beweer dat die mensheid homself in ʼn stygende lyn van progressie en evolusie bevind na iets beter en groots in hiérdie tyd en wêreld. Hierdie progressie is vir gesekulariseerdes ook iets waarvan die mens self volledig beheer kan en moet neem.

Hoe ookal, as moderne mense is ons ook bewus daarvan dat ons in ʼn ander rigting beweeg as waarin ons middeleeuse voor-ouers beweeg het.

Moderne mense maak baie van ʼn instrumen-talistiese idee van die wetenskap – d.i. ʼn wetenskap wat in diens moet wees van ʼn beter lewe hier op aarde. Middeleeuse mense het denke en wetenskap nie so gesien nie, omdat hulle gestrewe het na ʼn ander wêreld as hiérdie een. Die middeleeuers het hulself nogal ʼn donker prentjie voorgestel: Dit was een van mense wat deurspek is van die sonde en daarom is dit nodig dat die kerk as middelaar vir ons optree sodat ons in die hemel kan uitkom. In die proses het die middeleeuse kerk soos ʼn kinderoppasser oor mense gewaak en voorgeskryf.

Hieroor was daar ʼn omwenteling in die Westerse wêreld: die Reformasie en die Renaissance. Hierdie twee gebeurtenisse en die bewegings wat daarmee saamgegaan het, was die voorspel tot ʼn tyd van rewolusies – rewolusies soos die wetenskaplike rewolusie, die industriële rewolusie en politieke rewolusies soos dié van die Franse.

Om in te fokus op die wetenskaplike rewo-lusie: In die middeleeue met sy ontvlugting vanuit hierdie wêreld, was wetenskap baie keer ʼn soort denkgimnastiek, ʼn manier waar-op wetenskaplikes probeer het om toegang te kry tot ʼn wêreld buite hierdie wêreld, dit is die wêreld waar God dan sou bly – en waarin teoloë veral sal belangstel, en ʼn wêreld waar ewige idees bestaan – ʼn wêreld waarin veral filosowe belangstel. Maar met die wetenskap-like rewolusie het die natuurwetenskappe tot hul reg gekom. Dit het al meer begin gaan oor die fisiese wêreld.

Die suggestie is heel duidelik: ʼn Geldige wetenskap is een wat instrumenteel kan bydra om van die materiële wêreld ʼn meer leefbare plek te maak. Vir die posisie van die koningin van die wetenskappe vandag sal ekonomie, die mediese wetenskappe en die ingeneurs-wese dit moet probeer uitspook. Waar was ons in die middeleeue? Toe het die teologie en die filosofie gestoei vir hierdie posisie – albei dissiplines wat nou worstel om net aan die lewe te bly.

ʼn Vraag wat gevra moet word: Is daar nie dalk iets fout met die middeleeuse én moderne mentaliteite as daar wenners en verloorders, relevantes en geïgnoreerdes in die soeke na kennis uitgewys word nie? Moet die akademie nie eerder ʼn plek wees waar daar nuuskierigheid is oor ál die aspekte van die werklikheid nie – oor denke en geloof, maar ook oor liggame, klippe en masjiene?

Die skip van die post/modernisme

As ʼn mens praat oor die diepste aannames van die mensheid, oor die konteks waarin die akademie rigting moet kry, is jy eintlik besig met ʼn totaal ander dimensie van die uit-mekaarhaal-en-inmekaar-sit van die weten-skap. Omdat daar so ʼn duidelike onderskeid is tussen die struktuur van die akademie en die rigting daarvan in die moderne wêreld, word die rigting-aannames verduidelik met die beeld van ʼn skip-op-see-besig-met-ʼn-vaart. Die skip is die moderne mensheid waarin die akademie homself bevind. Om die prentjie nog meer ingewikkeld te maak, dit is ook die spreekwoordelike skip wat herbou word terwyl dit in vaart is.

Hierdie bou-in-vaart word in drie fases gedoen.

Die baie besliste eerste fase van die nuwe skip, was die uitbou van ʼn instrumentalistiese wetenskap. Hierdie instrumentalistiese be-klemtoning antisipeer reeds die tweede fase naamlik die ontwikkeling van tegnologie. Die industriële rewolusie was die vergestalting van die fase waarin klem op die tegnologie gelê word. Moderne fabrieke, vervoerstelsels en die analoog-tegnologie, waarmee ons ʼn dekade of meer gelede nog gekommunikeer het, staan hier uit. Na hierdie rewolusie het menslike lewe nogal verander: Waar ʼn huisgesin en werkplek van ʼn gesin min of meer dieselfde plek was, bly mense vandag in voorstede en gaan werk in middestede of industriële areas.

Waarom hierdie geweldige klem op ʼn instru-mentele wetenskap en die ontwikkeling van tegnologie? Die rede hiervoor moet gesoek word in hoe die kompas van die skip ingestel is: Die mens moet vry gemaak word, en om bevry te word, moet die mens mag in die hande kry, en om mag in die hande te kry, het s/hy ʼn instrumentele wetenskap en tegnologie nodig.

Al hierdie strewes moet natuurlik uitkom by ʼn materieel beter lewe, mense moet ekonomies bemagtig word. Met hierdie laaste stelling het die mensheid vir homself die derde fase van die bou van die skip moderniteit gevisuali-seer. Die derde fase sal ʼn nuwe ekonomiese bedeling wees waar alle mense materieel gemaklik en goed voorsien word.

Die lekkende skip

Maar dit is op hierdie punt waar die halfge-boude skip wat in vaart is, heel duidelik lek.

Die droom van ekonomiese welvaart word nie waar nie. Inteendeel, die droom word al vaer, want die gaping tussen ryk en arm word al hoe groter. Dit lyk of al meer van die wêreld se rykdom in die hande van ʼn kleiner-wordende groepie mense beland, en of die hoeveelheid desperaat arm mense al meer word.

Minstens twee derdes van die mensdom is in die greep van armoede. Dit moet ons pla omdat dit ʼn groep mense kweek wat iewers gaan sê dat hulle niks meer het om te verloor nie en daarom nou die reg in eie hande gaan neem. Maar dit is nie net die instrumentele uitkoms wat ons moet pla nie. As Christene moet ons bekommerd wees as ons mede-mense nie kos het nie en as hulle koud slaap. Die rigting van die skip waarmee die mens-heid op pad is, behoort ons vir hierdie rede alleen, baie te pla.

Hierdie probleem is verweef in ons tyd se beheptheid met globalisering. Globalisme word daarvan verdink dat dit iets is wat deur groot besigheid gedryf word om meer wins te maak. Vir die akademie word dit vertaal in die woordjie internasionalisering. Internasionalise-ring het oënskynlik die doel om nuwe en nuttige kennis met die ganse mensheid te deel. Maar daar is ook diegene wat hond se gedagte het dat dit eintlik daaroor gaan dat kennis al meer in die diens moet kom van die groot multinasionale maatskappye in hul poging om meer en groter winste te genereer.

Die moderne obsessie met ʼn instrumentele wetenskap en die tegnologie het ʼn ander donker kant: Die mensheid het reeds weten-skap en tegnologie geskep waarmee ons ons-self kan uitwis. Die atoombom is die duidelik-ste voorbeeld hiervan. Daar is ook ander teg-nologie wat op dieselfde uitkoms dui: Aardverwarming kan veroorsaak dat lewe op aarde oor ʼn paar dekades ondraaglik en selfs onmoontlik kan wees. Die groot oorsaak hiervan is byvoorbeeld die koolstof gebaseer-de tegnologië wat ons tans gebruik.

Daar is ook iets in die tussenmenslike er-varing van ons wêreld wat nie klop nie en wat die roesplekke in die skip moderniteit al duideliker maak: Ons sien in ons tyd dat die uitsluiting van sommiges al meer aandag trek. Die beskuldiging is dat net aandag gegee word aan diegene met materiële rykdom, ʼn sekere ras, godsdiens en geslag. Hiermee kan ons nie vrede maak nie, want dit weer-spreek ʼn basiese waarheid van die Refor-masie en inderdaad van ons Christelike bely-denis as sodanig: Alle mense en alle norma-tief gerigte take waarmee mense hulself besig hou, is gelyk in die oë van God. Daar is nie so-iets dat sekere mense en sekere take van ʼn hoër rangorde is nie. Daarom kan die Reformasie se voorkeur vir ʼn demokratiese regeringsbestel waarin almal ʼn gelyke sê het, genoem word – maar met die voorbehoud dat hierdie gelykheid veral moet uitloop op ge-regtigheid vir almal. Hierdie aandag aan die-gene wat uitgesluit word, is noodsaaklik, en dit lyk inderdaad of die skip moderniteit wel bewus word dat dit lek. Daarom sal ʼn akademie waar die perspektief van die Reformasie ʼn invloed het, die bydrae van alle geleerdes van groot waarde ag. Die post/moderne beweging na ʼn universiteit waarin ʼn top administratiewe bestuur alle seg-genskap sentraliseer, meesal ter wille van ʼn ekonomiese of politieke doel, sal met skeptisisme bejeën word.

Wanklanke

Maar daar is ook ʼn wanklankie as die kritiek teen die uitsluiting van sommiges al harder skreeu: “Die oorsaak van al die ellende in die wêreld is wit mans – hulle is per slot van rekening agter al die kolonialisering wat gesorg het en steeds sorg dat groot dele van die mensheid weggehou word van die sen-trum” – so asof dit net wit mans is wat plekke wat nie hul eie was nie, ingeval het en prak-tyke van slawerny gepleeg het. Daar is ook ʼn ander gewilde sondebok: “Besigheidsmense is nie welkom nie, want hulle monopoliseer die kapitaal, manipuleer ontwikkeling (van onder andere tegnologie) en veroorsaak so die ellende van meer as twee derdes van die mensheid” – so asof dit net besigheidsmense is wat ʼn onbehoorlike wil tot ekonomiese mag vertoon. ʼn Wanklank wat al hoe luider word: “Hou religie uit skole en die akademie, want met die vreemde gewoonte wat Christene het om mense te verdeel in skape wat gered is en bokke wat hel toe gaan, marginaliseer hulle ʼn sekere deel van die mensheid per definisie” – so asof dit net Christene is wat mense in die goeies en die slegtes verdeel en laasgenoem-de dan eenkant toe skuif.

Nou gaan u vir my sê dat ek nie meer sin maak nie. Het ek nie nounet gesê dat die ellende van die modernisme gekoppel kan word aan ʼn ekonomiese obsessie wat twee derdes van die mensdom uitsluit nie? Waarom noem ek dan die uitwys van die sondebokke naamlik wit, Christenmans wat veral daarvan hou om besigheid te doen, ʼn wanklank?

ʼn Teenargument: As jy teen die uitsluiting van mense is, soos wat ons inderdaad moet wees, moet jy ook wit mans en Christene en besig-heidsmense insluit. Om die waarheid te sê, die mensheid het die kundigheid wat hierdie mense het, en opgebou het oor eeue, baie nodig om ook diegene wat tans uitgesluit word, nader getrek te kry. Natuurlik moet jy hulle nie die vryheid gee om hul insluiting te gebruik om hulself besig te hou met praktyke wat ander mense uitsluit, verneder, uitbuit en onderdruk nie. Maar netso is die insluiting van swart vroue in die naam van regstelling nie ʼn vryheid om vernederende, korrupte en rassis-tiese praktyke op gang te kry nie. Die punt is: God het alles wat Hy gemaak het, goed verklaar. Daarom kan ons nie sê dat die rassige, geslagtelike, arbeidende en religieuse eienskappe van menswees per definisie boos is nie, en dat iemand wat ʼn besondere identiteit in dié verband vertoon, per definisie boos is nie.

ʼn Nuwe akademie

Die gebou akademie binne-in die skip moderniteit waarin ons ons bevind, is ingewikkeld. Om kop te hou binne hierdie komplekse bousel, is moeiliker as wat ons dink. Daarom is dit opvallend dat misverstaan en skeeftrek hier gedy

Dit gebeur byvoorbeeld gereeld as diegene binne die gebou akademie dink dat hulle eint-lik in die gebou besigheid of in die gebou staat is. Dit gebeur maklik as jy die universiteit soos ʼn maatskappy begin bestuur en dit sien as ʼn ekonomiese entiteit omdat ons ons bevind in ʼn konteks waarin daar ʼn taamlike obsessie met die ekonomiese is. Dit is goed om die ideaal te stel dat universiteite volgens goeie beginsels bestuur word. Universiteite kan in dié verband leer by besigheidsmense. Maar dit beteken nie dat ons universiteite in besig-hede kan verander nie. Universiteite moet goeie akademie, veral goeie wetenskap be-dryf. Meer nog, universiteite is nie net die kweekplek van besigheidsmense en entrepre-neurs soos die ekonomiese obsessie sug-gereer nie. Dit bring ons terug by die vraag wat aan die begin gevra is: Waarom is studente en dosente by universiteite? Net ter wille van ʼn ekonomiese motief – dalk ʼn ekonomiese motief ter wille van die staat (afhangende van jou persoonlike polities-ekonomiese ideologie)?

Die geboue op die skip moet dus van mekaar onderskei word: ʼn Besigheid is nie ʼn weer-mag nie, en so-ook is die akademie nie ʼn staatsinstelling of ʼn besigheid nie. Maar daar is ook ʼn tweede onderskeid wat onderstreep moet word: Die moderne tyd wil aanspraak maak dat dit weggekom het van die onvryheid wat die kerk vir middeleeuse mense veroor-saak het. Dit mag so wees, maar dan word iets bygevoeg wat nie summier duidelik is nie: Godsdiens word volgens ʼn modernistiese perspektief (wat populêr met Marx geas-sosieer word) gesien as bloot bygeloof wat diegene in mag gebruik om gewone mense te verslaaf. Selfs hiervan kan iets waar wees. Maar dan kyk hierdie selfde moderne mense die afgode en bygeloof van ons eie tyd mis. Hulle sien nie hoe ʼn obsessie met die materiële en wins, nasiebou en nasionalisme, ʼn verknogtheid aan die aardse en lyflikheid nuwe afgode en nuwe verslaafdhede orent bring nie.

Daarom die spesifieke vraag wat ons oor die akademie moet vra: Help dit ons om hierdie obsessies raak te sien, of het die akademie ʼn steriele praktyk geword waar die modes, die afgode van die tyd nagejaag word? Die modes van die tyd kan soms die skyn van kritiese denke hê omdat dit met groot selfver-troue die skuld pak op die ou verdagtes – die kapitaliste, die kolonialiste, die chauviniste, die homofobe, die nasionaliste. ʼn Obsessie om by te hou met die nuutste mode maak dit dan onmoontlik om raak te sien dat daar ook nuwe skurke bykom, ook uit die geledere van diegene wat die ou verdagtes beveg en vervolg. Is dit byvoorbeeld nie die posisie waarin die ANC-regering homself nou bevind nie? Maar God se versorging van die skep-ping het ʼn manier om hierdie skeeftrekkings reg te stel. Dit is hoe apartheid tot ʼn einde gekom het. Die eerste tekens dat die Suid-Afrikaanse situasie besig is met ʼn regstelling, kan onder andere gesien word as christen-leiers in die land die huidige korrupsie tipeer as die praktyke van ʼn Mafia-staat. Miskien kan ons ook die vraag vra: Gaan ons binnekort ʼn verset sien teen die toenemende gepoogde uitskouer van die christelike religie in onder-wys en wetenskap?

Die punt is, as ʼn mens ʼn kriterium wil aanlê oor die rigting van die skip, is dit nie so een-voudig om net te vra of iemand ʼn verdagte volgens die heersende mode was of is nie. Dit is eerder om te vra wat is reg en verkeerd, wat gaan iets beter of slegter maak. Laasgenoem-de is ʼn veel moeiliker opgaaf as om die heersende mode van praktyk of kritiek te volg.

Michael Heyns

Uitgawe Redakteur

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

 

 

 

 

f t g m